Welcome to TranslatorPub.Com!

PUB USER: Gentrans

Persönliche Informationen

Erster Vorname:
Eugene
Zweiter Vorname:
Nachname:
Seegers
Beitrittsdatum:
04/17/2014
E-Mail-Adresse:
Sie müssen angemeldet sein, um dies zu sehen!
Webseite:
Keine bereitgestellt
Geschlecht:
Männlich
Profil:
Nicht angegeben



Titel des Artikels: Noordwes-provinsie: Begrotingsgids
Erstellungsdatum:
04/17/2014
Aktualisiert am:
04/17/2014
Sprache:
Afrikaans
Kategorie:
Translation
TranslatorPub.Com Rang:
228
Views:
3390
Kommentare:
0
Bewertungen:
0, Bewerten Sie: 0 (10 Max)
Text:
BEGROTINGSGIDS
“VIR GROEI, ONTWIKKELING EN WELVAART”
PROVINSIALE BEGROTINGSRAAMWERK
Die mediumtermyn- bestedingsraamwerk vir 2014 gee steeds ’n platform vir groei, ontwikkeling en welvaart deur middel van die versterking van prioriteite in opvoeding, gesondheid, maatskaplike ontwikkeling, ekonomie en infrastruktuur. Die Provinsiale Regering het die proses van stapel gestuur om die Provinsiale Ontwikkelingsplan (POP) op te stel, wat in ooreenstemming met die nasionale strategiese raamwerk, d.w.s. die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP), sal wees. Die POP sal ’n geleentheid bied vir alle sfere van die regering (nasionale, provinsiale en plaaslike regering) om saam te werk.
Die fokus van die mediumtermyn- bestedingsraamwerk vir 2014 is om die gehalte en spoed van dienslewering te verbeter deur in die instandhouding van infrastruktuur en die uitgebreide program vir openbare te belê, wat tydelike werkverligting vir werkloses sal bied sodat die lewensomstandighede van arm gemeenskappe oor die provinsie heen verbeter kan word.
Die Noordwes-regering sal deur middel van die POP steeds fokus op die verbetering van opvoeding, opleiding, innovering, gesondheid, ekonomie, werk, ekonomiese infrastruktuur, geïntegreerde en inklusiewe landbou-ekonomie, menslike nedersettings en ruimtelike verandering, volhoubaarheid van die omgewing, die bou van veiliger gemeenskappe, die bou van ’n bekwame en ontwikkelingsregering, die uitwissing van korrupsie en die transformasie van die gemeenskap en vereniging van die provinsie.





’N OORSIG VAN DIE PROVINSIALE BEGROTING VIR DIE 2014/15 FINANSIËLE JAAR
Die provinsiale regering se hoofbronne van inkomste
Die Noordwes-regering befonds sy uitgawes deur middel van drie bronne van inkomste, d.w.s. billike aandeel, voorwaardelike toelae (nasionale oordragte) en provinsiale eie inkomste, insluitende reserwes (d.w.s. geld uit vorige finansiële jare wat nie bestee is nie). Billike aandeel: Dit is geld wat op nasionale vlak ingewin word en aan die provinsie toegeken word volgens die billike aandeel-formule. Voorwaardelike toelae: Fondse wat aan die provinsie toegeken word uit die nasionale regering se begroting waaraan sekere voorwaardes geheg word. Provinsiale eie inkomste: Inkomste wat deur die provinsie self ingewin word, byvoorbeeld voertuiglisensies, pasiëntgelde, dobbel- en dranklisensie-gelde.
Die totale provinsiale begrotingsraamwerk vir die finansiële jaar 2014/15 beloop altesaam R31,770 miljard; dit is ’n toename van 4,9 persent in vergelyking met die aangepaste raming van R30,274 miljard vir 2013/14. Die provinsiale inkomste bestaan altesaam uit die volgende bronne van inkomste:
• Billike aandeel van R24,707 miljard wat 78 persent van die provinsiale inkomste uitmaak;

• Voorwaardelike toelae van R5,621 miljard wat 18 persent van die provinsiale inkomste uitmaak en

• Provinsiale eie inkomste van R961 miljoen wat 3 persent uitmaak.

• Provinsiale reserwe van R480 miljoen wat 1 persent uitmaak.

Die algehele provinsiale begroting groei met 4,9 persent in vergelyking met die aangepaste raming van R30,274 miljard vir 2013/14 na R31,770 miljard in die 2014/15 finansiële jaar. Die toename in die provinsiale begrotingsraamwerk word hoofsaaklik gedryf deur die toename in die provinsie se eie inkomste en billike aandeel, wat elk 7,8 persent beloop. Voorwaardelike toelae het ’n minimale toename van 2,9 persent getoon in vergelyking met die aangepaste bewilliging vir 2013/14.
FINANSIERING VAN PROVINSIALE PRIORITEITE IN DIE MEDIUMTERMYN- BESTEDINGSRAAMWERK
Deur middel van die implementering van die Nasionale Ontwikkelingsplan in die Mediumtermyn- Bestedingsraamwerk (MTBR) vir 2014, word daar verwag dat staatsbesteding sal verbeter op gebiede wat ekonomiese groei en werkskepping verhoog. Die 2014 MTBR-bewilligings vir die provinsie word onder meer deur die volgende sleutelprioriteite beïnvloed:
• Verbetering van opvoeding, opleiding en innovering;
• Verbetering van gesondheidsdienste;
• Skepping van ’n bevorderlike milieu vir ekonomiese ontwikkeling;
• Skepping van werksgeleenthede, ekonomiese infrastruktuur;
• Geïntegreerde en inklusiewe landbou-ekonomie;
• Menslike nedersettings en ruimtelike transformasie; en
• Die bou van veiliger gemeenskappe.
Die implementering van die bogenoemde prioriteite word gefinansier deur die vier sektore in die provinsie, naamlik die maatskaplike, ekonomiese ontwikkeling en infrastruktuur, staatsbestuur en administrasie-sektor sowel as die provinsiale wetgewer.


Die grootste deel van die begroting vir 2014/15, naamlik 76 persent, word aan die maatskaplike sektor toegeken, gevolg deur die ekonomiese en infrastruktuur-sektor met 17 persent, die staatsbestuur-sektor met 6 persent en die provinsiale wetgewer met 1 persent.
Die tabel hieronder toon die opsomming van betaling en ramings per sektor.







PROVINSIALE BEWILLIGINGS VOLGENS DEPARTEMENTE SE AANDEEL








INFRASTRUKTUUR-BEWILLIGINGS












WAARVOOR WORD DIE GELD AANGEWEND?










FOKUSGEBIEDE VAN DIE BEGROTING VIR 2014/15

OPVOEDING EN OPLEIDING

Die departement mik om gehalte- basiese opvoeding te voorsien ten einde groter prestasies onder leerders in die hoër onderwys te behaal deur middel van uitnemendheid onder opvoeders asook ondersteuningsdienste. Die grootste deel van die 2014/15 provinsiale begroting, 39 persent, word aan opvoeding toegeken. Opvoeding neem toe vanaf R11,522 miljard in 2013/14 na R12,423 miljard in 2014/15 om onder meer die volgende te finansier:
• R367 miljoen word aan die Nasionale Skole-voedingsprogram toegeken, sodat leerders by skole wat nie skoolgelde vra nie, ook van kos voorsien word;
• Opvoeding-infrastruktuur: R624 miljoen word toegeken om infrastruktuur te voorsien en te onderhou vir all Openbare Gewone Skole, in ooreenstemming met die minimum fisiese infrastruktuur-standaarde sodat leerders en onderwysers ’n inspirerende milieu het;
• R395 miljoen word toegeken vir Leerder-onderwyser-ondersteuningsmateriaal en werkboeke om te verseker dat leerders en opvoeders die basiese Leer- en Onderwys-ondersteuningsmateriaal (LOOM) ontvang ooreenkomstig die behoeftes van die kurrikulum;
• R39 miljoen word aan Graad R-implementering toegeken; hierdie program voorsien in die behoeftes van voorskoolse opvoeding voor Graad R en vir Graad R in die gemeenskap se sentrums vir Vroeë Kinderontwikkeling;
• Onderwyser-ontwikkeling: R11,4 miljoen word toegeken om onderwysers te help om hulle kennis te verbreed van die vakke waarin hulle onderwys gee en om onderwysers se vakkundige kennis uit te brei en opleiding te voorsien in doeltreffende onderwysmetodes;
• Skolesport: R16 miljoen word hieraan toegeken, want dit verseker dat ons aktiewe leerders het; en
• ABET-uitbreiding: R28 miljoen word aan hierdie program toegeken, waarvan die mikpunt is om goeie gehalte opvoeding en opleiding te verbeter aan alle volwassenes en jongmense wat nie deur die hoofstroom- opvoedingstelsel beweeg het nie.

GESONDHEID







Die departement is verantwoordelik vir die lewering van primêre gesondheidsorg-dienste, hospitaaldienste, forensiese patologiese dienste en mediese noodreddingsdienste. ’n Bedrag van R8,184 miljard word aan dié departement in 2014/15 toegeken, hoofsaaklik om onder meer die volgende te finansier:
• Infrastruktuur-projekte: R634 miljoen word word toegeken vir konstruksie en instandhouding van gesondheidsfasiliteite (insluitende hospitale en klinieke) in die provinsie;
• Mediese Voorraad insluitende Droë Resepteerafdeling: R211 miljoen word aan hierdie nie-onderhandelbare funksie toegeken;
• Sekuriteit by Hospitale: R123 miljoen word toegeken om sekuriteit by hospitale oor die hele provinsie te verbeter;
• Infeksiebeheer en Skoonmaak: R95 miljoen is opsygesit om die beheer van voortdurende gehalteverbetering by alle gesondheidsfasiliteite en die monitering van infeksies wat opgedoen word as gevolg van gesondheidsorg, te ondersteun;
• Opleiding en ontwikkeling van mediese personeel: R105 miljoen word toegeken om die opleiding en ontwikkeling van professionele mediese personeel en werwing van mediese spesialiste te ondersteun; en
• Omvangryke MIV- en vigs-program: R937 miljoen word toegeken aan ’n omvangryke MIV-en vigsprogram.
Die regering verbind hom steeds tot die voorsiening van gehalte- basiese gesondheidsorg-dienste aan almal. Die regering se mediumtermyn-prioriteite sluit in die verlenging van lewensverwagting, die vermindering van sterfgevalle onder moeders en kinders en die stryd teen MIV en vigs deur middel van verbeterde doeltreffendheid van die gesondheidstelsel.


MAATSKAPLIKE ONTWIKKELING

Die departement streef daarna om ’n geïntegreerde, omvangryke en hoëgehalte- maatskaplike beskermingsdienste te bied sodat die vermoë van arm en kwesbare persone, huishoudings en gemeenskappe sovêr moontlik vergroot word. Dit sluit die voorsiening van beradingsdienste aan slagoffers van misdaad en geweld in, sorg vanaf die tuisgemeenskap vir mense wat lewe met en geraak word deur MIV/vigs sowel as dienste wat middelmisbruik teëwerk asook dienste aan dié wat bots met die gereg.
Maatskaplike Ontwikkeling se begroting neem toe vanaf die aangepaste R1,057 miljard in 2013/14 na R1,242 miljard in 2014/15 om onder meer die volgende te finansier:
• R12 miljoen word toegeken vir Middelmisbruik-behandelingsentrums;
• Slagoffer-bemagtiging: R10 miljoen word toegeken vir die Slagoffer-bemagtigingsprogram;
• Vroeë Kinderontwikkeling: R68 miljoen word voorsien vir die implementering van die VKO-program in die provinsie; en
• R3,4 miljoen word toegeken vir die voorsiening van skuiling vir slagoffers van geslagsgebaseerde geweld.








MENSLIKE NEDERSETTING

Die departement se doelwit is om op doeltreffende wyse die ontwikkeling van bewoonbare, geïntegreerde menslike nedersettings in die provinsie te beplan, te koördineer, te voorsien en te ondersteun. Om dit te vermag, is daar R1,763 miljard aan die departement in die 2014/15 finansiële jaar toegeken, ’n toename van die aangepaste R1,635 miljard in 2013/14 as gevolg van die bykomende finansiering van R117 miljoen uit die Nasionale Begroting. Die grootste aandeel van die departement se toekenning is die voorwaardelike toelae vir Menslike Nedersetting-ontwikkeling, ten bedrae van R1,517 miljard. Die toekenning is ook bedoel om die huidige behuisingsagterstand in die provinsie aan te spreek wat geraam word op 238 000 huishoudings.
Die toelae vir Menslike Nedersetting-ontwikkeling fokus daarop om die volgende sleutelelemente te finansier:
• Behuising vir kwalifiserende begunstigdes deur die konsolidasie-subsidie of bestaande behuising,
• Institusionele subsidies, insluitende finansiering vir die oprigting van behuisingsondersteuning-sentrums, gemeenskaplike ontwikkelingsassosiasies (vir menslike behuisingsprogram-projekte); en
• Grondaankope om goed geleë behuisingsontwikkeling te akkommodeer, word ook uit die toelae befonds in gebiede waar die provinsie en/of munisipaliteite nie grond beskikbaar het nie.



LANDBOU- EN LANDELIKE ONTWIKKELING

Die doelwit van die departement is om landbou- en landelike ontwikkelingsdienste te voorsien vir volhoubare lewensbestaan. R910 miljoen word aan die Departement toegeken vir die 2014/15 finansiële jaar.
Die bewilliging sluit onder meer R179 miljoen vir Omvangryke Landbou-steunprogram en Ilima/Letsema-projekte ter waarde van R46 miljoen.

Finansiering vir die volgende programme word ingesluit in die R910 miljoen:

• Kgora Landbouer-opleidingsentrum: R22 miljoen word vir hierdie program opsygesit; en
• Taung Landboukollege: die kollege ontvang ’n bykomende R27 miljoen in die finansiële jaar 2014/15.

Die departement sal hoofsaaklik op die implementering van die omvangryke voedselsekerheid- en voedingstrategie fokus deur die ontwikkeling van onderbenutte grond in gemeenskapsgebiede en grondhervormings-projekte, asook die ontwikkeling en implementering van beleide wat die ontwikkeling en ondersteuning van kleinboer-verbouers en die uitbreiding van besproeiingsgrond bevorder.



OPENBARE WERKE, PAAIE EN VERVOER

Die hoofrol van hierdie departement is om veiliger openbare vervoer, provinsiale grond en infrastruktuurbeheerstelsels vir geboue en paaie te voorsien wat tot ’n beter lewe vir alle inwoners van die provinsie sal lei. Die begroting vir die departement het toegeneem van ’n gewysigde toekenning van R3,614 miljard in 2013/14 na R3,807 miljard in die finansiële jaar 2014/15. Die toename is hoofsaaklik om onder meer die volgende provinsiale prioriteite te finansier:
• Vervoer vir skoliere/leerders: R222 miljoen is vir hierdie program voorsien;
• Provinsiale padinstandhoudingstoelae: R690 miljoen word bewillig vir instandhouding van provinsiale paaie;
• Opgradering van sleutelpaaie: R147 miljoen word bewillig vir die opgradering van sleutel- provinsiale paaie; en
• Tegniese kapasiteit vir Openbare Werke: R11 miljoen word bewillig vir die tegniese kapasiteit in die Openbare Werke-eenheid.
Die toekenning sal ook verseker dat die departement programme en strategieë implementeer wat tot die ontwikkeling en bemagtiging van gemeenskappe en kontrakteurs sal lei. Dit sluit die provinsiale bestuur en koördinasie van die uitgebreide program vir openbare werke in.




EKONOMIESE ONTWIKKELING, OMGEWING, BEWARING EN TOERISME


Die missie van die Departement is “om volhoubare ekonomiese ontwikkelings- en omgewingsdienste in die Noordwes-provinsie te dryf en te fasiliteer deur” onder meer koördinering van ekonomiese beplanning; integrasie van ekonomiese ontwikkelingsdienste, bevordering van handel en belegging, toerisme en omgewingsbestuur. R625 miljoen word in 2014/15 toegeken sodat die departement die volgende oogmerke ook kan bereik:
• Kleinsakeontwikkeling;
• Provinsiale makro-ekonomiese beplanning en ontwikkeling;
• Navorsing om ekonomiese potensiaal en beleidsontwikkeling te bepaal;
• Ontwikkeling van ekonomiese sektor en implementering van sektorale handves;
• Verbetering van produktiwiteit en mededinging van verskeie ekonomiese sektore;
• Fasilitering van nywerheidsontwikkeling, waaronder die toerismebedryf;
• Fasilitering van ekonomiese infrastruktuur-ontwikkeling;
• Bevordering van belegging en handelswese; en
• Omgewingsbewuste ekonomiese ontwikkeling en implementering.




PLAASLIKE REGERING EN TRADISIONELE AANGELEENTHEDE


Die doel van die departement is om die ontwikkelingsmunisipaliteite en lewensvatbare institusies van tradisionele leierskap in die Noordwes-provinsie op doeltreffende wyse te ondersteun, te monitor en te bevorder. R595 miljoen word in 2014/15 aan dié departement toegeken om te verseker dat die departement die volgende sleutel- strategiese oogmerke bereik:
• Die bou en versterking van die administratiewe, institusionele en finansiële vermoëns van munisipaliteite en provinsiale institusies van tradisionele leierskap sal bereik word deur ondersteuning van die verbetering in munisipaliteite se finansiële lewensvatbaarheid, wat staatsbestuur in munisipaliteite en institusies van tradisionele leierskap sal stabiliseer;
• Die verbetering in toegang tot basiese dienste en infrastruktuur in munisipaliteite sal bereik word deur die deelname van sleutelbelanghebbendes te vergroot en te verseker dat die maksimum departementele ingryping plaasvind tydens beplanning en lewering van infrastruktuur;
• Die ondersteuning van werkskeppingsinisiatiewe sal geskied deur van plaaslike ekonomiese ontwikkelingstrategieë gebruik te maak; en
• Daar sal verseker word dat munisipaliteite geïntegreerde ontwikkelingsplanne saamstel.
’n Bedrag van R15 miljoen word vir ’n rampbeheersentrum en R14 miljoen vir oprigting van ’n tradisionele raad met bedryfskoste in die bewilliging ingesluit.



OPENBARE VEILIGHEID EN SKAKELWERK

Die doelwit is om veiligheid te voorsien deur middel van doeltreffende koördinasie van misdaadvoorkomingsinisiatiewe, toesig deur provinsiale polisie, verkeersbeheer en padveiligheid sodat ’n veiliger milieu geskep kan word. Die toekenning neem toe van die aangepaste R522 miljoen in 2013/14 na R555 miljoen in die finansiële jaar 2014/15. Bykomende finansiering word aan die volgende programme beskikbaar gestel:
• Verkeerskollege: R10 miljoen word bewillig vir die stigting van ’n Verkeerskollege in die provinsie;
• Versterking van wetstoepassing: R18 miljoen word aan hierdie programme toegeken; en
• Versterking van burgerlike toesig en misdaadvoorkoming: R8,5 miljoen word aan hierdie program toegeken.
Die toekenning sal ook verseker dat ’n 24-uur-skofstelsel na vier bykomende gebiede uitgerol word, met die doel om sigbaarheid te verbeter waar dit nodig is, asook dat aankope van bykomende voertuie en die bou van toetssentrums vir leerders gedek word.





SPORT, KUNS EN KULTUUR

Die departement se missie is om sport, kuns en kultuur te skep, te bevorder en te ontwikkel vir die vooruitgang en verryking van gemeenskappe, om toegang, ontwikkeling en uitnemendheid op alle vlakke van deelname te vergroot. Die departement se begroting neem toe van die aangepaste R531 miljoen in 2013/14 na R543 miljoen in die finansiële jaar 2014/15. Hierdie bewilliging sal verseker dat die departement die volgende prioriteite of programme behaal in die finansiële jaar 2014/15:
• Uitgebreide program vir openbare werke-program (UPOW): R2,628 miljoen word aan hierdie program toegeken;
• Gemeenskapsbiblioteekdienste: R98,883 miljoen word aan die Gemeenskapsbiblioteekdienste-toelaag toegeken, wat onder meer voorsiening maak vir biblioteekboeke en die konstruksie en instandhouding van gemeenskapsbiblioteke in die provinsie; en
• Massasport en ontspanningsdeelnameprogram: R43,503 miljoen word aan hierdie program toegeken.
Die toekenning sal ook verseker dat sport-, kuns- en kultuuraktiwiteite toeganklik is vir alle gemeenskappe, asook dat talent in die provinsie bevorder word, geleenthede gebied word om toegang te verkry tot inligting en kennis deur middel van biblioteke en museums, om ons geskiedkundige verslae te bewaar vir alle gemeenskappe en om toestande te skep en te bevorder vir die ontwikkeling van ’n multikulturele samelewing terwyl daar verseker word dat gemeenskappe wat voorheen gemarginaliseer is, geleenthede gebied word.




Slot
Die begrotingsraamwerk vir 2014 sal die hoeksteen wees in die implementering van die Provinsiale Ontwikkelingsplan, wat gekoppel is aan die Nasionale Ontwikkelingsplan. Van kardinale belang vir hierdie begroting is dat provinsiale besteding transformeer na gehalte staatsbesteding deur te verseker dat departemente uitgawes eerder toeken aan sleutelprioriteite sodat groei en belegging in infrastruktuur volgehou en bevorder word terwyl daar wegbeweeg word van verbruiksbesteding.

Rate It!
You must be logged in to vote!

You can log in, or sign up for free, here!
Comments:
There are no comments on this yet, be the first below!
Post a new comment:
You must be logged in to comment!

You can log in, or sign up for free, here!
YouTube YouTube YouTube

©TranslatorPub.com 2024 All Rights Reserved.
Mail comments and suggestions to info@translatorpub.com | Privacy Policy | Sitemap.

Paypal     Paypal
Paypal     Paypal
Paypal